Gouritz-nuus‎ > ‎

Raar vis by Gouritsmond getypoel gevang

posted 27 May 2013, 10:56 by Admin Gouritzmond   [ updated 27 May 2013, 10:57 ]
‘n Besondere en baie seldsame vis is deur ‘n plaaslike hengelaar van Gourits, Daniel October gevang.  Daniel het gaan hengel vir elwe en kabeljou, net links van die getypoel toe hy hierdie besondere vangs gemaak het. Sy weergawe was dat hy aanvanklik gedink het dit is ‘n jong haaitjie maar besef het dit is iets anders toe die vis heeltemal uit die water spring. 

Die vis het ‘n lengte van 1,200 meter gehad, en na die binnegoed 
verwyder is, het dit 3.7 kg geweeg, so na berekening ongeveer 4 kg.  Daniel het ook bevestig dat dit ‘n wyfie moes wees a.g.v die teenwoordigheid van kuite.  Dit is ’n pragtige vis met ‘n veelkleurige kop, met wat lyk soos ‘n horing of antenna op die voorkop, baie mooi, groot oë en ’n rooierige rugvin wat oor die hele lengte strek, tot by die klein stertvinnetjie. 



Die hengelaars het die vis gou geëin as die baie seldsame : LOPHOTES CEPEDIANUS Giorna (Verwysing: The Sea Fish of Southern Africa by J.L.B.Smit).  Sy algemene Engels naam is Crested Oarfish of die "Unicorn fish". 'n Afrikaanse naam is onbekend. 

'n Soortgelyke vis is in 1977  deur ʼn spoorwegpolisieman van Mosselbaai in die vlak branders by Santos Strand met die hand gevang en aan Mev Margaret Smith vir navorsing gestuur. In die boek SEEHENGEL in SUIDKAAP van Eben Schoeman noem hulle hom ‘n LOPHOTES CAPPELEI.  Hy staan ook bekend as: LOPHOTUS LACEPEDE of LACEPEDEI. 
Daar is egter verskeie ander name maar die ou wat hom blykbaar die erste keer aangeteken het was ene Giorna, in 1806. (LOPHOTUS LACEPEDE Giorna).

Foto en inligting verskaf deur mnr Johan Oosthuizen van die Gourits Boot en Hengel Assosiasie.
Comments