Bartolomeu Dias het uit Lisbon, Portugal geseil in Augustus 1487 met twee karvele van 100 ton elk en 'n proviand-skip. Sy opdrag was om die weskus van Afrika verder suid te ondersoek en hopelik 'n roete om Afrika te vind na die Ooste.


Hy het teen Afrika se kus afgeseil en later die mees-suidelike kruis (padrão) op daardie stadium, by Kaap Kruis (Namibië) verbygesteek.

Heelwat later het hy die pieke van die noordelike Sederberge waargeneem, maar toe weggedraai van die kus en wes, meer diepsee toe geseil. Blykbaar omdat die sterk suidewind van voor hulle te veel opdraend gegee het.

Uiteraard het hy daarna weer suid en uiteindelik ook weer oos geseil - hy wou dan juis óm Afrika se punt seil!  In die proses het hy onwetend om Kaappunt en die suidpunt van Afrika geseil, want toe hy noord seil om land te vind, was sy eerste sig van land by wat ons vandag ken as die Gouritzrivier se mond. Hy het die rivier Rio dos Vaquerios (Rivier van die herders) genoem - moontlik omdat hy van die inheemse volkere waargeneem het in die omgewing.

So is die eerste land wat om die punt van Afrika deur 'n Europeër gesien is, dié by Gouritzmond in 1488 gewees!



Hier volg 'n meer volledige oorsig van die geskiedenis van Gouritsmond, goedgunstiglik verskaf deur Anna-Marie vd Merwe van die Toerismekantoor:

Die eerste inwoners van hierdie gebied was die Khoisan (kollektiewe naam vir die Khoikhoi en die San) Die Khoikhoi was nomadiese herders (beeste & skape) terwyl die San (Boesmans) jagters was wat van die veld, see en skulpvis gelewe het.

Skulpmiedens by VisbaaiSkulpmiedens by Visbaai
Die Khoikhoi-stam van hierdie gebied het as die Gourikwas bekend gestaan. Vandaar dan die naam van ons rivier en dorp. Bartholomeas Diaz het hierdie mense in 1488 by Visbaai (aan die oorkant v/d rivier) raakgeloop en by hulle beeste geruil.

Die ou put by Visbaai
Die eerste blanke besoekers aan die Albertinia/Gouritsmond gebied was Korporaal Hieronymus Cruse en 25 man in 1667.  Die doel van hierdie besoek was om vee te kom koop.  In 1668 is Cruse per boot na Mosselbaai gestuur.  In hierdie dae het mense buite die grense van die kolonie gereis om te jag.  Dit is op rekord dat  jag-lisensies so vroeg as 1712 uitgereik is vir jag in die omgewing van die Gouritzrivier. 

Boere het uit die kolonie getrek op soek na weiding vir hul vee.  Teen 1729 bereik die eerste boere dan die Gouritzrivier omgewing.  Die eerste weidingslisensies vir hierdie omgewing is in 1730 -1731 aan boere uitgereik.  Teen 1900 was die hele gebied in privaat besit met die uitsondering van ‘n klein gedeelte aan die westelike kant van die riviermonding, bekend as “The Fisheries” wat aan die Staat behoort het. (Kroongrond)

Die naam “The Fisheries”  (wat steeds op titelaktes gebruik word) kom waarskynlik van die groot aantal vis wat hier gevang is en die moontlikheid dat hier in vergange se dae ‘n visfabriek was.

Dorpstigting vind  in 1915 plaas en in 1916 word die eerste 65 erwe verkoop.  ‘n “Strandwag”, oom Daantjie Steyn word aangestel.  Sy huis was die laaste huis in Kusweg min of meer waar die grondpad vandag begin en het bekend gestaan as die “kussingsloop”.  Hy is opgevolg deur oom Jantjie Koen.  Die strandwag moes toesig hou oor die dorpsgebied en sorg dat die nagvuil verwyder word. Dit was die "emmerstelsel".

In 1945 word “The Fisheries” tot Plaaslike Gebied proklameer en in 1947 aan die Afdelingsraad oorgedra.  ‘n Erfhouersvereniging is gestig met mnr Gooly Horn as voorsitter en mnr Haumann as sekretaris.  Mnr Haumann beklee hierdie posisie tot 1994 (40 jaar).  Hy is steeds een van ons gerespekteerde inwoners.

Die naam Gouritzriviermond (na die Gouritzrivier) is onder leiding van oom Nic Oosthuizen finaal in 1966 amptelik verander na Gouritsmond.   Die Gouritzrivier  word steeds met ‘n z gespel.   Die posadres vir Gouritsmond was Avondrust.

Die “emmerstelsel”  word in 1970 deur spoellatrines vervang.  Die ou grondpad na Gouritsmond het oorspronklik 25 hekke gehad wat  oopgemaak moes word.  ‘n  Teerpad is  in 1983 gebou.  Straatligte is vir die eerste keer op 17 Junie 1992 aangeskakel.  Die eerste straat wat geteer is was Rivierstraat in 1990.

Water

Vars water was van die begin-dae af  ‘n  probleem op Gourits.  Vakansiegangers het maar hulle eie drinkwater aangery, of gaan haal by Nelie’s gif of  Moddergat.  ‘n Fontein is later gegrawe waar water met rolvaatjies gehaal is.  So ‘n vaatjie het ‘n halfuur tot ‘n uur geneem om vol te maak en was dan voldoende vars water vir ‘n gemiddelde huishouding vir ‘n dag se gebruik.  Trappies is tot onder in die put gebou om die skep van water te vergemaklik.   (Aan die einde van Kusweg)

Kusweg Fontein

Dit was verpligtend dat alle erwe na 1948 voorsiening moes maak vir ‘n bogrondse opgaardam van  minstens 2 000 gellings.    Die mense het agtergekom dat water wat kom vanaf dakke aan die seekant,  brak is.  Daarom is geute slegs  aan die nie-seekante van dakke opgesit.      

Na jarelange onderhandelinge kry Gourits nou water vanaf ‘n fontein op die plaas Doordrift.  Hierdie water kom feitlik kosteloos met gravitasie tot in die dorp.

So met die jare het die dorpie toe uitgebrei tot wat dit vandag is.

Ons Kerkgebou

Reeds in 1902 het ds DJ Malan van Riversdale toestemming gevra om ‘n kerkgebou op kroongrond te Gouritzmond te bou.  Toestemming vir ‘n hout-en-staalgebou op ‘n stuk grond van 50vt X 50vt is verkry, maar dit is onduidelik of so ‘n stuktuur ooit opgerig is.

Opelug-eredienste is gereeld gehou.  Eers in 1949 is erf 98 in die kerk se naam getransporteer.  Die planne vir die kerk is deur ‘n graad 10 leerling van Albertinia, Gerbrand Streenkamp geteken.  As vergoeding het hy ‘n stel tekeninstrumente ontvang.  Mnr Danie Scott – vader van die skrywer Daleen Matthee en onderwyser op Albertinia  was die bouer.  Daar was nie genoeg geld om die kerk se vloer te voltooi nie en in die beginjare is op komberse op die gruis binne-in die kerk gesit. Die eerste elektriese lamppaal in Gouritsmond is in 1990 op die kerkgrond aangebring.

 
Die Kerkklok
 

Ou gaslampe wat as ligte dien


Skeepswrakke

Die kus (soos 'n groot deel van Suid Afrika se kus) in die Gouritzrivier se omgewing, kan verraderlik wees vir skeepvaart. Verskeie skeepswrakke in die omgewing is opgeteken - hier is 'n kaart van skeepswrakke teen hierdie kus.

Verseker die bekendste boot wat aan Gourits se kus aan sy einde gekom het, is die Haliartus. Hier volg ‘n opsomming van die gebeure van 1932 soos uiteengesit deur oom Paul Zietsman:

"Die Haliartus van 5 294 ton is in 1919 in Engeland gebou deur die firma J Redhead & Son as die SS Deniston. Sy word later oorgeneem deur die Houston Line en vaar as die Haliartus onder Kaptein JH Malpas met radio-operateur Johnson en Laskare – bemanning in April 1932 vanaf Engeland na SA. Tydens die maritieme hof-ondersoek na die ramp is beweer dat hulle onderweg kompas-probleme gehad het en sirkel tot in Valsbaai rondom die nodige verstellings te doen met behulp van gekarteerde punte op die kus, voordat hulle verder  Ooswaarts vaar.

Aan boord was ‘n gemengde vrag met o.a. 1 200 kiste whiskey, 40 motors – meestal Baby Austins en ook ‘n Rolls Royce, Shell petroleum produkte, Dunlop motor-bande, allerlei gereedskap, melasse, blikkies ingemaakte kos, klerasie, ammunisie en helaas, ‘n paar houers uiters giftige sianied.

Om 04:00 die oggend van 3 Mei 1932 kom stuurman Ernest Coultas aan diens en was die skip volgens die kompas 24 km Suid van die naaste kus. Om 06:00 beveel die Kaptein ‘n koers-wysiging na Noord en om 07:20 vaar hulle skielik in ‘n baie digte misbank in, tipies van hierdie geweste. Toe die Kaptein later bevel gee om te stop, stamp die boot teen die rotse en sit so stewig vas dat selfs volstoom tru hulle nie kon roer nie. Dit was 08:00, Woensdag, 3 Mei 1932, hulle was 9km Noord van die regte koers.

Daar was geen lewensverlies nie, die bemanning is vanaf Mossebaai per boot kom afhaal. Deel van die vrag is oor-gelaai op die Zwazi, ‘n stoomboot van Thesens en na Mosselbaai vervoer, waar dit later per veiling verkoop is. Die bergings-poging onder ene Kaptein Van Delden is gestaak na ‘n geweldige storm wat die agterste 2/3 afgebreek en laat sink het in water so 10 meter diep en die voorste 1/3 tot byna op die kant gespoel het. Hierdie Kaptein is rondom 1950 tydens ‘n proef met ‘n nuwe metode om ‘n wrak weer vlot te maak tydens die berging van die City of Lincoln by Quin-point, Augulhus gedood toe die dek onder hom ontplof het.

Aan wal was ‘n doeane-beampte, ene Mr Reynolds wat geen Afrikaans geken het nie, in bevel van werkers wat die uitgespoelde ware moes versamel en by sy depot lewer. My Pa en oom Wollie Rietvlei het saam die tender gehad
om die goedere vandaar op Mosselbaai te lewer.

Pappie het dit per osse-wa tot by sy kamp, daar waar Oom Sias later sy huis gebou het, vervoer. Dit was die end van die motor-rybare pad en vragmotors kon dit verder na Mosselbaai neem (ek dink dit was Oom Danie van Tonder se lorries). Alles wat by Mr Reynolds opgelaai is, is opgeskryf en Pappie moes dit in Mosselbaai lewer of betaal aan die versekeraars. Die hele kontrei-bevolking het die ramp as ‘ “Gawe van Bo” gesien en het geneem al wat hulle kon wegdra, veral snags teen die steil sandduine uit. Hulle is deur ander dopgehou wat dan weer die weggesteekte ware verder geneem het vir hulle self. Dan kla die eerste oor die skelms wat hulle goed so steel. Die probleem was dat hulle ook by Pappie se kamp ge-oes het en die wagte kon nie altyd als oppas nie maar ‘n boer maak ‘n plan. My pa gaan kuier toe saans by Mr Reynolds, speel kaart en geniet gratis whiskey tot laat, hy het met sy manne gereël dat hulle vroeg daar kom, en sommer begin laai sodat as Mr Reynolds bykom was daar al baie goed op die waens wat nie aangeteken was nie, die manne kon nie Engels verstaan nie en was op bevel totaal onnosel. So het Pappie ‘n voorraad opgebou teen die wegdra. Nadat alle aangetekende ware
gelewer was het Pappie net die wagte weggeneem en gou was daar niks by sy kamp oor nie.

Om die vragte se massa te reël moes groot ligte goed saam met kleiner swaarder goed gelaai word soos bv. 5liter olie kanne. Shell maak toe beswaar teen die verspreiding van sy produkte want as daar water bygekom het kon kopers groot skades kry en Shell groot eise teen kom kry. Al die olie produkte moes toe vernietig word. My Pa-hulle maak toe ‘n vuur onder ‘n krans en gooi al die hanteerbare houers op die vuur, daar het glo ‘n stroom vuur soos lawa in die see ingeloop. Ons het tot so 15jaar terug nog oliekan-proppe daar opgetel. Die groter kanne is vernietig deur met ‘n kielhouer-pik ‘n gat bo in te kap en dan die drom om te stoot sodat die inhoud kan uitloop, maar toe kap hulle die gat teen die rand sodat dit bo is as die drom omval en maar min uitloop. Dan is van die sogenaamde leë dromme later verwyder.

Toe ek ‘n kind was was die Navy Blue seemans-truie en sokkies standaard drag in die Duine. Eetgerei, uit die skip was volop in die huise en gereedskap ook op die plase. Whiskey vir medisyne was in alle huise genoeg. Ek weet nie hoekom my Pa so eerlik was nie want hy het niks vir homself gehou wat ek van weet nie. Sy plaaswerkers het daar gehelp met die waerns en hulle het my vertel watter reuse visse uitgespoel het want die sianied het alle see-lewe vir etlike myle uitgewis.

Volgens ‘n Natuur-radio-program in die 1960’s soggens voor die 7-uur nuus, is gesê dat die grootste seekat wat nog in ons waters gemeet is, was met die Haliartus-ramp. Sy pote was glo 12vt land. Adv. Fanie Schoeman verwys in sy boek Strike na rooi steenbrasse van 2 tot 2.5m wat daar uitgespoel het. Die werkers het soos konings gelewe want blikkies-kos was volop en gratis, al was die etikette af kon hulle gou-gou die inhoud bepaal deur net na die vorm van die blikkie te kyk. Die inhoud het niks makeer nie.

Daar is baie staaltjies oor die SKIP soos bv. die een oor die Dominee van Albertinia wat so ‘n “Hell and Fire” preek gelewer het oor die stelery by die skip. Hy kom toe ook kyk na die ramp, los sy motor by my pa se kamp en stap die 2 myl langs die see af tot by die skip. My Pa sien toe die toestand van sy motorbande en sit vir hom ‘n hele stel op. Dominee kom niks agter voor hy tuis kom nie maar toe was dit te laat, hy het nooit weer oor die skip gepreek nie.

Al was die see-lewe so uitgeroei was die afsondering die redding, daar het nie mense gekom nie, dus kon die Natuur homself genees en spoedig was die Skip weer ‘n gesogte hengel-plek. Hou net mense weg en die kus herstel sonder hulp van die Staat of wie ookal. Almal eis nou vrye toegang na die see maar die RSA het net 3 miljoen meter kus en 45 miljoen mense wat beteken dat vir elke meter kus is daar 15 mense, wat elk soveel mag aas as wat die lisensies toelaat. Vele lisensie-houers reken hy moet sy kwota stroop, al gooi hy die res ook weg want hy het mos daarvoor betaal.

Ek moet liewer nou ophou voordat ek verkeerde goed sê, maar dink asb. goed na oor regte en voorregte en die verskil daar tussen.
Dankie vir elkeen wat geluister het ..... " aldus Oom Paul Zietsman

‘n 12km Kuspad verbind Gourits met Reins Natuurreservaat. Dit is in hierdie omgewing wat talle skepe op die rotse geloop het. By Reins, in die omgewing waar die Haliartus gestand het, is laterjare ‘n lighuis gebou wat baie gehelp het om soortgelyke tragedies te voorkom!

Gourits Die Hond

Gouritsmond is een van die min dorpe met ‘n standbeeld vir ‘n hond.  Hierdie hond, soortgelyk aan ‘n Belgiese Herdershond het aan niemand behoort nie, niemand het geweet waar hy vandaan kom  nie, maar almal het hom geken en hul oor hom ontferm. In die plaaslike Toerisme Kantoor is ‘n pamflet beskikbaar wat breedvoerig kommentaar lewer oor hierdie merkwaardige hond.

Gevorderde kanker is by “Gourits” gediagnoseer en ‘n vee-arts van Mosselbaai het hom uitgesit. Mnr Muller Rademeyer, sy vrou Excelda, hul dogter, Pulane, wyle Tjaart vd Walt en Hannes Pienaar het vir "Gourits" naby die gemeenskapsaal langs die melkhoutbos begrawe.  (waar die gedenksteen toe ook opgerig is.)

Die dood van "Gourits" was nie die einde van sy geskiedenis nie!  Die musiekmaatskappy EMI, het ‘n gedenksteen vir "Gourits" geborg en Ettienne Steyn, ‘n  sanger van George, het ‘n liedjie geskryf oor die hond "Gourits" en dit op CD opgeneem.

Op die steen is gegrafeer:



GOURITS
Sterf:  18 November 2004
"Hier lê begrawe 'n hond - En tog meer as ‘n dier……
Vir jare oumensevriend, metgesel, stapmaat, visserman, strandjakker, kindervriend.
Voëlvry, want niemand was sy baas.

Rus in vrede, Gourits  -  ons sal jou altyd onthou!"

Die gedenksteen is onthul op 20 Julie 2007 .