Ander suksesse van die Trust is: - Regulasies vir die beheer van die rivier
Die Trust het die afkondiging van regulasies vir die beheer van die rivier, eers deur die Plaaslike Raad van Gouritsmond (
Prov Koerant 5086, 15 Nov 1996), later deur die Distriksmunisipaliteit
(Prov Koerant 5725, 15 Junie 2001) geïnisieer en later meegewerk aan
Hessequa se gesamentlike regulasies vir al vier riviere binne die
munisipale gebied (Prov koerant, 6594 ged 16 Januarie 2009).
- Beheer- en bestuursplan vir die Gouritz
Reeds
in 1994 het die trustees die behoefte uitgespreek vir die daarstel van
'n behoorlike beheer- en bestuursplan vir die rivier en het mnr Tjeert
Hoekstra, CapeNature, 'n konsepplan opgestel. Dit is opgevolg deur 'n
"Spatial Development Plan" opgestel deur Dennis Moss konsultante in
2002. Die Trust het egter gevoel dat die dokument (wat 'n gesamentlike
projek was van die Trust, Langeberg- en Mosselbaai munisipaliteite),
hoewel 'n waardevolle dokument, nie was wat hulle benodig het nie. Deur
onderhandeling is die helfte van die koste (R40,000) terugverkry en is
Cape Nature versoek om so 'n plan op te stel. Diè taak behoort teen
einde 2011 afgehandel te wees. Sodoende sal ook aan die nuwe
wetgewing: "The Integrated Coastal Management Act" van 2008 voldoen
word! Dit sal beteken dat 'n "Estuarine Management Forum" met
uitvoerende mag gestig sal word wat beheer en bestuur oor die rivier sal
uitoefen.
- Registrasie van die Sleephelling
Die
Trust het reeds in 2005 deur die munisipaliteit aansoek gedoen
(aansoekfooi van R5000 betaal) om die sleephelling by die rivier
geregistreer te kry. Diè saak het om verskeie redes baie lank gesloer
en uiteindelik is toestemming verkry by die betrokke munisipale
amptenare om die saak direk met die betrokke owerheidsinstansies te
onderhandel en is die sleephelling op 04 Oktober 2010 geregisteer, die
eerste in die Hessequa gebied!
- Opgradering van die Parkeerarea by die sleephelling
Daar
is reeds vroeg, na die stigting van die Trust, besef dat iets gedoen
moet word om die area by die sleephelling meer gebruikersvriendelik te
maak. Die probleem was egter dat die sleephelling geleë is in 'n uiters
sensitiewe gebied - midde-in 'n soutmoeras en dat die gebied van
CapeNature gehuur word. Artikel 11 (a) van die huurooreenkoms bepaal
dat toestemming verkry moet word vanaf CapeNature voordat enige werk
daar gedoen mag word. Aanvanklike versoeke om die area, wat baie
modderig was as gevolg van die slik wat met elke hooggety of vloed daar
ingespoel is, te verbeter, is nie toegestaan nie. In 1998 is vir die
eerste keer toestemming verkry om 'n klompie vragte klip daar in te ry,
om 'n jettie op te rig en om die parkeergebied af te kamp. Die
Omgewings-wetgewing van 1998 het tot gevolg dat benewens CapeNature ook
die departement omgewingsake se toestemming vir sekere gelyste aksies
verkry moes word. In 1999 is magtiging verleen om die sleephelling self
te herstel nadat die toon afgebreek het. Gedurende Februarie 2000
spoel die jettie weg tydens 'n vloed en kon dit nie vervang word nie
weens gebrek aan fondse en toestemming. In 2003 is 'n publieke
vergadering gehou om te besin oor wat gedoen moet word om die
parkeerarea te verbeter. 'n Konsep-plan wat deur personeel van die
destydse Tuinroete-Kleinkaroo munisipaliteit opgestel is (Upgrading of
the Gouritsmond Slipway and Parking Area) en in September 2005
voorgelê. Intussen (2005-2008) is bykomende vragte klip ingery, die
palingheining vervang en kennisgewingborde hernu. Die departement
omgewingsake het egter laat weet dat geen opgraderingsvoorstelle oorweeg
sal word alvorens die sleephelling nie geregistreer is nie. Noudat
registrasie wel plaasgevind het, is met die amptenare van Hessequa
ooreengekom dat die Trust 'n bydrae van R150,000 sal maak tot die
opgradering van die sleephelling-area en is planne deur 'n munisipale
amptenaar opgestel wat tans in oorweging is. Intussen het die rivier,
wat in vloed was, baie slik bo-oor die oppervlak, wat in 'n redelike
toestand was, agtergelaat en sodoende die situasie gekompliseer. Daar
word nou op die munisipaliteit se reaksie gewag.
- Uitroei van Indringerplante
Indringerplante
is 'n groot probleem in hierdie omgewing en die Trust het vroeg in sy
bestaan besef dat die uitroei van indringerplante 'n prioriteit is. Vir
die afgelope tien jaar is by ses geleenthede geld bewillig vir die doel
en is by twee geleenthede in samewerking met Coast Care dele van die
meentgrond skoon gemaak. Tans is opvolgwerk op 'n groot deel van die
meentgrond aan die gang en kan beweer word dat die meent redelik skoon
is van indringerplante. In die proses is natuurlik ook werk verskaf aan
'n groot getal andersinds werklose individue.
- Skep van Omgewingsbewustheid by publiek
Een
van die doelstellings van die Trust waaraan deurgaans aandag gegee is,
is die bewusmaking van die publiek tov die besondere waarde van ons
sensitiewe omgewing. Daar is veral, maar nie net, op die skoolkinders
van ons omgewing gekonsentreer. By verskeie geleenthede is
poppekas-aanbie-dings gereēl waar kinders geleer is om ons natuurskatte
te respekteer. Lesings is ook vir volwassenes aangebied waar inligting
deurgegee is oor omgewingswetgewing. Dat hierdie pogings nie sonder
sukses was nie, blyk daaruit dat in hierdie relatief klein gemeenskap,
R106,000 byeengebring 'n ongewensde ontwikkeling in die hooggeregshof
teen te staan.
- Verklaring van deel van meentgrond as Natuurgebied
Die
nie-regeringsorganisasies in die dorp het saamgestaan en daarin geslaag
om die mees sensitiewe omgewing van die meentgrond as natuurgebied
verklaar te kry en sodoende te verseker dat verskeie uiters sensitiewe
plante in hierdie omgewing behoue bly vir die nageslag.
- Samestelling van 'n lys van voёls van die omgewing
'n
Lys van 233 voёls wat in hierdie omgewing gesien kan word is saamgestel
en aan die publiek beskikbaar gestel by die plaaslike toerismekantoor
en biblioteek.
- Staproete
Die Trust het 'n
staproete ontwikkel met die oog daarop om besoekers bekend te stel met
die verskillende plantegroei-tipes wat op ons meentgrond voorkom. In
sameweking met Coast Care en met harde werk van verskeie trustees is
staproetes van 1.6, 3, 5 en 8 km ontwikkel wat stappers bekend stel met
die verskillende plantegroei areas, nl.: Kus strandveld, Rivier Kusveld,
Bosveld, Oorgangs fynbos, Duine Fynbos en Protea Fynbos. Vir meer
besonderhede hieroor, kyk na Flora en Fauna van Gouritsmond.
- Skakeling met ander Bewaringsliggame
Die
Trust was betrokke by die ontstaan van die Gouritz Megapark wat later
bekend gestaan het as die Gouritz Inisiatief en baie onlangs opgegaan
het in die "Gouritz Cluster Biosphere Reserve", 'n Art 21 maatskappy.
Die Trust is dan ook jare gelede vereer met die toekenning: "Trotse
vennoot van die Gouritz Inisiatief". Daarbenewens word deelgeneem aan
aktiwiteite van die Mosselbaai Omgewings-vennootskap, bewareas in die
omgewing, CapeNature en gemeenskapsorganisasies.
- Teenstand teen ongewensde ontwikkelings en praktyke
Die
Trust is nie gekant teen ontwikkeling nie maar is sterk daarop ingestel
om ongewensde, onvolhoubare ontwikkelings en praktyke te probeer
verhoed. Daarom registreer die Trust gereeld as geїnteresseerde en
geaffekteerde party tov enige beoogde ontwikkeling of praktyk.
Sodoende is daarin geslaag om, saam met ander organisasies verskeie
sulke ontwikkelings en praktyke te verhoed.
| Van die frustasies vir die Trust is: - Gebrekkige wetstoepassing
Daar
is geen wetstoepassing instansie wat in Gouritsmond geleё is nie. Die
SAPD is 35 km (in Albertinia), Marine- en Kusbestuur is in Mosselbaai
gesetel, CapeNature se beamptes is in Riversdal en Omgewingsbeamptes
bevind hulle in George. Die gevolg is dat wetstoepassing nie na wense
is nie en dat ten spyte van uitstekende wetgewing die omgewing in baie
opsigte benadeel word.
- Aanslae deur ontwikkelingsplanne
Omdat
die rvier en die omgewing uiteraard gesog is, is daar gedurig
ontwikkelingsvoorstelle wat geevalueer moet word en, indien nodig,
teengestaan moet word. Die area is 'n area waarin water skaars is en
wat gevolglik nie groot ontwikkelings kan akkommodeer nie. Die publieke
deelname wat deur die omgewingswetgewing moontlik gemaak word, vereis
baie tyd en inspanning.
- Vandalisme
'n Groot probleem is
vandalisme - aanwysings op die staproete word gevandaliseer,
verbodtekens word geїgnoreer en voertuie word gebruik in areas waar dit
nie toelaatbaar is nie. Dit veroorsaak onnodige koste om nie te praat
van moedeloosheid by diegene wat dieselfde taak maar oor en oor moet doen nie.
- Onkunde van publiek
Baie lede van die publiek is
nog steeds nie werklik bewaringsbewus nie en is nie ingelig oor hoe
hulle verkeerde optrede die welstand van die omgewing benadeel nie. Dit
is natuurlik ook 'n vingerwysing vir omgewingsbewaringsinstansies,
insluitende die Trust, dat nie genoeg gedoen word om die publiek in te
lig nie. Daar is egter ook diegene onder die publiek wat nie wil gehoor
gee nie maar eenvoudig volhard in hul onverskillige weë!
|