Aktiwiteite‎ > ‎

Stap

Gouritsmond is geleë aan die monding van die Gouritzrivier met die Langeberge in die agtergrond en die Indiese Oseaan wat die rotsagtige kuslyn omspoel. Ons nooi u uit om van die unieke geleentheid gebruik te maak om hierdie juweel, Gouritsmond, te kom ontdek. In teenstelling met ons buurdorp Mosselbaai, is Gouritsmond baie gelyk en dus idiaal vir die stapper of fietsryer - selfs ouer persone vind dit gemaklik om ons natuurskoon te voet te kom verken.

Om stappers aan die verskillende plantegroei-tipes van die omgewing bekend te stel het die Gouritsrivier Bewaringstrust staproetes ontwikkel en word hierdie baie spesiale natuurlike erfenis nou gedeel met die algemene publiek.

Vier staproetes van respektiewelik 1,6 km, 3 km, 5 km en 8 km is uitgelê en nommers is by verskeie plante aangebring wat vergelyk kan word met die nommers op die brosjure. Dit help met die identifisering van plante. Hierdie brosjures is beskikbaar by die plaaslike Inligtingskantoor of kan hier afgelaai word.

Gouritsmond lê in 'n gebied waar daar ‘n samevloeiing is van drie internasionaal-erkende biodiversiteite met meer as 200 plant- en 240 voëlspesies.

Flora

Die streek val in die "World Heritage Cape Floral Kingdom". 'n Groot gedeelte van die grond binne die grense van Gouritsmond is weens die sensitiewe plantegroei wat hier voorkom, as oop ruimte 111 soneer, wat beteken dat dit amptelik 'n bewaringsgebied is. Dit is die tuiste van minstens veertien spesies van bedreigde plante. Die meentgrond huisves drie verskillende plantegroei tipes, naamlik Littorale Plantegroei, Ruigtewoud en Fynbos.

'n Verdere verdeling van hierdie plantegroei tipes is:

Littorale Plantegroei:
  • Strand Kusveld
  • Rivier Kusveld
Ruigtewoud:
  • Duine Bosveld
Fynbos:
  • Oorgangs Fynbos
  • Duine Fynbos
  • Protea Fynbos
Gouritsmond is die tuiste van 'n goed-gevestigde bevolking van die skaars grond orgidieë, die Disa Lugens of Baardmannetjie. Hulle groei hoofsaaklik in die dektrietbosse weens die beskerming wat die wortelstelsel bied teen molle wat die bolle vreet. Die plaaslike bevolking is uniek omdat dit gedurende die winter (Mei-Julie) blom.

Dekriet kom algemeen in die omgewing voor en in die naaste dorp Albertinia, is daar twee fabrieke wat die produk verwerk. Die produk word gebruik vir die dek van dakke, lapas en die maak van teëls. Dekriet word elke twee tot vyf jaar ge-oes, gedurende die wintermaande, net nadat die sade deur die wind versprei is. Tydens die vorige eeu was grasdakke baie gewild in die vinnig groeiende dorpe van die Kaapkolonie.

Fauna

Een van die rariteite van die Gouritsmond meentgrond, is die bedreigde skoenlapper (Poecilmitis Brooksi Teari), wat gedeeltelik afhanklik is van 'n mierspesie wat na sy larwes omsien.

Daar is ook 'n luiperd in ons omgewing. Dit is deur verskeie persone gesien, langs die rivier en langs die see. (2011)

Besoekers word gevra om asseblief geen voertuie op die meent (alle oop grond) te gebruik nie. Dit is die broeiplek en groeiplek van baie skaars plante en veral die kiewietneste kan nie gesien word nie. Hier is ook nog ‘n groot aantal wildsoorte in die omgewing. Die Meent word beskerm deur die Cape Nature.

U kan seker verstaan waarom die meeste inwoners van Gouritsmond baie beskermend is teenoor hierdie unieke omgewing waarin ons bevoorreg is om te woon. Ons deel graag hierdie voorreg met mense wat bereid is om die natuurskatte in ons omgewing te respekteer en volhoubaar te benut, want ons wil verseker dat ons kinders se kinders ook nog hierdie skatte kan geniet.
gouritsmond staproetes
Staproetes is duidelik gemerk


Poecilmitis brooksi teari
Die bedreigde skoenlappersoort (Poecilmitis brooksi teari)


haemanthus coccineus
Haemanthus coccineus


bitoublom
Bietoublom

gouritz waterput
Waterput