Aktiwiteite‎ > ‎

Hengel

Soos so baie ander kusdorpies draai vakansievermaak op Gouritsmond hoofsaaklik rondom die see en die rivier  -  veral visvang.  Dit is waarskynlik die goeie hengelplekke wat  die eerste vakansiegangers na  Gouritsmond gelok het en verantwoordelik was vir die ontstaan van Gouritsmond.

Rivier-,  rots-, strand- en diepsee hengel is ‘n gewilde tydverdryf hier en elke hengelaar het natuurlik sy gunsteling  plek.  Vra maar hier rond en  jy sal 'n lys van beskrywende name hoor wat ingekleur is met nostalgie.   Daar is Haaikrans, Steentjie se gat, Holkom, Skool se Bank, Nelie’s Gift, en vele ander.

Gouritsmond is wél bekend onder hengelaars as 'n visvang-paradys en menige "boerkabeljoue" is al in die Gouritzrivier gevang.  Die SA hengelrekord vir die grootste kabeljou het tot 2001 nog gestaan agter die naam van Oom Baas van Rensburg  (76.09kg), wat hier in die Gouritzrivier gevang is.  Twee nog groter kabeljoue is ook hier gevang maar ongelukkig kon die visse nie geregistreer word nie.  (Die hengelaars het nie aan klubs behoort nie).  Hier word gereeld kabeljoue van 40+kg gevang, terwyl die gemiddelde gewig wissel tussen 8 – 15kg. Onthou u mag net 1 kabeljou  per dag vang. (min. grote = 60cm)

Van die mees algemene spesies wat hier gevang word is kabeljou, galjoen, elf, knorhaan (grunter) en leervis en die gewildste aas wat gebruik word is rooiaas, steentjies, mossels, sardines, krewels, krappe en potloodaas.

'n Baie groot bate vir Gouritsmond is die nuwe sleephelling.  Dit maak rivier- en diepsee hengel moontlik.

Gouritsmond is in die gelukkige posisie om die dienste van ‘n plaaslike Taxidermist, mev. Petro Botha te hê.  (082 878 9715)

Dit is 'n goeie idee om jou hengelplek in 'n ongeskonde toestand te laat en altyd 'n geldige lisensie byderhand te hê.  Hengel-, boot- en aaslisensies is beskikbaar by die plaaslike poskantoortjie en by die sleephelling.

hengel op gouritsmond

boothengel op gouritsmond

gouritsmond sleephelling
Sleephelling

gouritsmond jetty
Nuwe jetty

elf
Elf

kabeljou
Kabeljou